Frankryk hou dag van rou vir Mayotte
Frankryk hou ’n dag van nasionale rou nadat sikloon Chido vroeër vandeesmaand sy Indiese Oseaan-gebied Mayotte verwoes het. Daar word gevrees dat honderde, moontlik duisende, mense gesterf het toe Chido op 14 Desember op die eiland aan Afrika se suidooskus toegeslaan het, met winde van tot 260 kilometer per uur en 250mm reënval in die eerste 24 uur. Mense regoor Frankryk bring hulde en vlae hang halfmas gehys in ‘n vertoning van solidariteit in stede soos Parys, Marseille en Lyon. Oorlewendes sukkel steeds sonder water, kommunikasie en elektrisiteit terwyl reddingswerkers probeer om dringend hulp te verleen.