Trump belowe 100% tariewe op Brics as hulle rug op dollar draai

Vrese vir ‘n wêreldwye handelsoorlog het toegeneem nadat Donald Trump gedreig het om 100 persent-tariewe op Brics-lande te hef as hulle ‘n nuwe geldeenheid skep om met die Amerikaanse dollar mee te ding. Trump het op sy sosiale media-platform, Truth Social, geskryf dat hy ook sal optree as hulle ‘n ander geldeenheid ondersteun om die dollar te vervang. “Hulle kan ‘n ander ‘sucker’ gaan soek. Daar is geen kans dat die Brics die Amerikaanse dollar in internasionale handel sal vervang nie, en enige land wat probeer, moet Amerika vaarwel wuif,” het hy gesê. Die waarskuwing het gekom minder as ‘n week nadat Trump verklaar het hy sal tariewe op Kanada, Mexiko en China hef sodra hy as president ingehuldig is.