HRW sê Mos-veiligheidsbeamptes dood 10 kinders

Human Rights Watch sê Mosambiekse veiligheidsmagte het die dood van ten minste 10 kinders veroorsaak en talle is beseer in verkiesingsgeweld. Oproerigheid heers in die land sedert die verkiesing op 9 Oktober, wat die regerende Frelimo-party gewen het. Die party is sedert Mosambiek se onafhanklikwording aan bewind, maar die uitslag word deur die opposisie betwis. Duisende mense het die afgelope weke oor die hele land betoog en die polisie het dit met geweld onderdruk. Die menseregte-groep sê minstens 36 ander kinders is tydens die betogings gewond. Die owerhede het nie op die bewerings gereageer nie.