Indië slaan Aussies bloedneus in eerste toets

Krieket: Indië het ’n reuse-oorwinning van 295 lopies oor Australië behaal in die eerste toets in Perth. Albei spanne het in die eerste beurt swakkerig gekolf – Indië 150 en Australië 104. Die besoekers was egter in die tweede beurt in beheer en het op 487 vir ses verklaar met honderdtalle deur Yashasvi Jaiswal en Virat Kohli. Dit het aan Australië ʼn teiken van 534 lopies gestel om te wen. Die Baggy Green is egter op die voorlaaste dag vir 238 uitgeboul. Die tweede van die vyf toetse begin volgende Saterdag in Adelaide.