Zille sê dis nie die werk van die DA om die ANC te beskerm nie

Die voorsitter van die Federale Raad van die DA, Helen Zille, sê dit is nie die werk van die DA om die ANC te beskerm nie, maar om die waarheid te praat en op te kom vir die waardes, beginsels en beleid wat Suid-Afrika sal red. Sy het reageer op ‘n artikel deur die joernalis Mondli Makhanya, wat Zille beskryf het as ‘n opperste afbreker wat die regering van nasionale eenheid bedreig. Zille sê nie een van haar openbare uitsprake oor die bestuur van die koalisieregering kan moontlik die bestendigheid daarvan ondermyn of in gevaar stel nie.