Argentynse polisie slaan toe op Nazi-arsenaal
Die Argentynse polisie het ‘n man in Buenos Aires gearresteer wat ‘n groot aantal ou Nazi-wapens besit wat met Derde Ryk-simbole van Adolf Hitler se berugte regime versier is. Die polisie het beslag gelê op meer as 60 vuurwapens by die man se huis, insluitend 43 gewere met Nazi-arendmerke, 15 pistole, vyf bajonette en ‘n masjiengeweer, volgens ‘n verslag van Argentinië se federale polisie. Nazi-vlae, militêre uniforms, hoede, helms en ‘n borsbeeld van Hitler is ook deur owerhede gekonfiskeer.