De Beers en Boko vergader, ooreenkoms amper gereed
De Beers se uitvoerende hoof, Al Cook, sê hy verwag dat onderhandelinge met Botswana oor ‘n nuwe diamantverkoopverdrag binne weke afgehandel sal wees, nadat hy met die nuwe president, Duma Boko, vergader het. De Beers het verlede jaar ‘n nuwe verkoopsooreenkoms met Botswana ooreengekom, maar dit moet nog onderteken word. Volgens die ooreenkoms sal Botswana se aandeel van diamante uit sy gesamentlike onderneming met De Beers, Debswana, geleidelik toeneem oor die volgende dekade. Cook het in ’n videogreep wat deur Botswana se presidensie op Facebook geplaas is, gesê die gees van die ontmoeting met Boko was een van hernude energie. Hy sê hulle het ooreengekom om skouer-aan-skouer te werk aan bemarking en om ‘n begeerte vir natuurlike diamante te skep.