Oranje-bekken se olie-ontwikkeling moet ompad vat
Daar is kommer onder olie-reuse in die Oranje-bekken met die bevinding dat daar ‘n baie hoë gas-tot-olie-verhouding is. Groot olie-vondse is deur Shell, TotalEnergies, Chevron, en Portugal se Galp gemaak maar al die maatskappye het ‘n probleem: daar is te veel gas saam met die olie. Namibië het die opvlam van gas ten tyde van olie-ekstraksie verbied en dus moet die gas óf terug in die boorgate ingespuit word tydens ontginning óf verwerk word vir bemarking. Volgens hulpbronskattings kan Namibië aardgasreserwes van soveel as 8,7 triljoen kubieke voet hê. Oliemaatskappye het kommer oor die ontwikkeling omdat produksiekoste tot ongeveer 20 Amerikaanse dollar per vat afgeskaal moet word en dus, moet ooreenkomste met die regering aangepas word. Shell waarsku dat sy Namibiese bedrywighede meer uitdagend is as wat verwag is.