De Klerk hou vol hy het net instruksies gevolg
Die vermeende Fishrot-regsman Maren de Klerk het deur sy prokureur, Wihan Brand van PD Theron & Associates, ’n verklaring aan media gestuur. Volgens wat berig word hou hy vol dat sy optrede uitsluitlik deur kliëntinstruksies gelei is en hy geen bedoeling gehad het om onwettig op te tree of aan enige kriminele aktiwiteit deel te neem nie. Die aanklaer-generaal, Martha Imalwa, het in Oktober 2022 ’n aansoek ingevolge die wet op die bekamping van georganiseerde misdaad gebring dat sowat 4,7 miljoen Namibiese dollar in De Klerk se regsfirma se rekening en sowat 1,8 miljoen dollar in sy privaatrekening gevries moet word. Imalwa voer aan dat sy firma se trustrekening gebruik is om fondse uit die verkoop van viskwotas te ontvang en te betaal. Imalwa se aansoek is toegestaan De Klerk se appèl was onsuksesvol. Regter Shafimana Ueitele het die week beveel dat die fondse aan die staat verbeurd verklaar moet word. De Klerk hou vol dat die 1,8 miljoen dollar betaling aan hom was maar dat die geld in die firma se rekening wettig daar gehou is. Volgens hom het die media en vervolgingsowerhede hom ernstige persoonlike en professionele skade berokken. Pogings om De Klerk uit Suid-Afrika aan Namibië uit te lewer, was tot dusver onsuksesvol