SAOG sal eers oor tien dae oor Mosambiek vergader
Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap sal die krisis in Mosambiek eers oor sowat tien dae by ‘n vergadering in Harare aanspreek. Dit kom na gewelddadige betogings en inperkings in die hoofstad Maputo. ‘n Buitengewone SAOG-beraad sal van 16 tot 20 November gehou word. Boaan die agenda sal opkomende kwessies van streekbelang wees. Zimbabwe het in Augustus vanjaar die jaarlikse rotasie-voorsitterskap van die streekblok aanvaar. Sedertdien was daar betwiste verkiesings in Mosambiek, ‘n geskiedkundige magsoorgang in Botswana, en ‘n algemene verkiesing in Mauritius. Namibië stem op 27 November.