Lincoln-vlag, lok van Washington se hare op veiling
Terwyl die wêreld sy aandag op die Amerikaanse verkiesing vestig, sal presidensiële geskiedenisliefhebbers belangstel in ‘n veiling later die maand van items wat wissel van ‘n lok van George Washington se hare tot ‘n vlag wat Abraham Lincoln vergesel het tot sy laaste rusplek. Guernsey se veilingshuis in New York sê die vlag is op Lincoln se kis gedrapeer toe dit in 1865 van Washington na Springfield, Illinois, gereis het, waar hy begrawe is. Daar word voorspel dit kan tot 1,2 miljoen Amerikaanse dollar onder die hamer bereik. Daar is ook ‘n 49-ster vlag van voor die tyd wat Hawaii aangesluit het. Die veiling vind op 22 November plaas.