Verskyning by Swapo-saamtrek nie polities: Groenwaterstof-program

Die Namibië Groenwaterstof-program, NGH2P, verseker Namibiërs in ‘n verklaring van sy onwrikbare toewyding tot deursigtigheid, inklusiwiteit en volhoubaarheid. Dit kom na skerp kritiek omdat die groenwaterstof-kommissaris, James Mnyupe, saam met Namcor ‘n Swapo-byeenkoms toegespreek het. Die program sê hy was genooi en sy betrokkenheid dui geensins op politieke belyning of onderskrywing van enige party nie. Dit het uitsluitlik gespruit uit sy kernmandaat om openbare bewustheid te kweek en Namibiërs in te lig oor groenwaterstof se voordele, veral vir die jeug, opkomende entrepreneurs en klein besighede. Die program bly daartoe verbind om met alle partye en gemeenskappe te skakel, en rig ‘n uitnodiging aan politieke partye, organisasies en belanghebbendes om van sy dienste gebruik te maak.