Israel ontvoer ‘Hezbollah-amptenaar’ uit Libanon
Die Israeliese weermag het in ‘n ongekende operasie wat hulle noem ‘n senior Hezbollah-amptenaar uit noord-Libanon ontvoer. Israeliese kommando’s het aan die kus van Batroun in Noord-Libanon geland, Imad Amhaz gevange geneem en per snelboot ontsnap. ‘n Israeliese militêre amptenaar sê in ‘n verklaring sy magte het ‘n “senior agent van Hezbollah” gevange geneem en na Israel oorgeplaas om deur militêre intelligensie ondersoek te word. Libanon se opsigter vervoerminister, Ali Hamie, sê Amhaz is ‘n burgerlike bootkaptein, en Hezbollah het nie kommentaar gelewer nie. Die opsigter-premier, Najib Mikati, sê Libanon sal ‘n klag by die VN-veiligheidsraad indien, en dat hy Libanon se weermag en die VN se vredesending gevra het om die voorval te ondersoek.