Duma Boko ingesweer as Botswana president

Botswana se hoofregter Terence Rannowane het Duma Boko Vrydagmiddag amptelik tot die wenner van die presidensiële verkiesing verklaar. Die 54-jarige van die Umbrella for Democratic Change vervang president Mokgweetsi Masisi, wat ‘n nederlaag erken het nadat sy Botswana Democratic Party slegs in die vierde plek kon eindig. Boko is by die kantoor van die hoofregter as president ingesweer, berig Al Jazeera. Osupile Maroba, woordvoerder van die Onafhanklike Verkiesingskommissie, het vroeër aan die AFP-nuusagentskap gesê: “Die UDC het die minimumvereiste bereik om tot die volgende regering verklaar te word.” Onder die land se kiesstelsel word die eerste party wat 31 van 61 setels in die wetgewer ingeneem het, as die wenner aangewys.