Hezbollah kry nuwe leier
Hezbollah het sy adjunk-sekretaris-generaal, Naim Qassem, as sy nuwe hoof aangestel. Hy vervang Hassan Nasrallah, wat verlede maand in ʼn Israelse lugaanval in Beirut dood is. Qassem is een van die paar leiers van die Iran-ondersteunde groep wat Israel se onlangse aanslae op die organisasie oorleef het nadat talle belangrike leiers in sluipmoordaanvalle dood is. Hy het beloof Hezbollah sal voortgaan om teen Israel te veg in wat hy as ʼn oorlog om die vyand af te breek beskryf.