Klagtes teen Musk met US$1m ‘lotery’
Die kantoor van die distriksprokureur in Philadelphia, Larry Krasner, het ‘n regsgeding aanhangig gemaak om Elon Musk se omstrede geskenke van 1 miljoen Amerikaanse dollar aan kiesers in Pennsilvanië en ander swaai-state te stop, en noem dit ‘n onwettige lotery. Die stap volg op waarskuwings van die justisie-departement dat die geskenke federale verkiesingswette kan oortree. Die regsgeding noem Musk en sy politieke aksiekomitee America PAC as die respondente. America PAC en Elon Musk bestuur ‘n onwettige lotery in Philadelphia sowel as regdeur Pennsilvanië, het Krasner in ‘n verklaring gesê.