Uiters streng grensbeheer in Nederland ingestel

Die verregse Nederlandse regering het ‘n stel streng nuwe asielmaatreëls aangekondig, insluitend die instel van grens-deursoekings en die verklaring van streke in die oorloggeteisterde Sirië as “veilige gebiede”. Premier Dick Schoof het die kabinet se planne op ‘n nuuskonferensie uiteengesit na dae van samesprekings tussen die regerende vierparty-koalisie onder aanvoering van die vurige Geert Wilders se Vryheidsparty. Die streng maatreëls sluit die grens-deursoekings soortgelyk aan Duitsland s’n in, die skrapping van onbepaalde verblyfpermitte vir vlugtelinge, en die verkorting van die vlugteling-permit van vyf na drie jaar.