Kommer oor TB in myne

Die hoof van die Kamer van Mynwese Veston Malangu het beken dat Namibië nie die teenwoordigheid van tuberkulose in die land se myne ernstig opneem nie. Volgens Malangu draai mynmaatskappye weg van die probleem en toets nie genoeg nie. Die Kamer het volgens hom ook nie genoeg aandag daarop gevestig nie. Hy sê dit is belangrik dat die toetsing vervat word in standaardprosedures van alle myne in die land. Tuberkulose kom voor in talle gemeenskappe in die land en kan so versprei na myne, ook as gevolg van die toestande waarin mynwerkers bedrywig is. Maatreëls om die probleem aan te spreek is reeds geïdentifiseer en al wat oorbly is implementering. Die voorkoms van TB onder mynwerkers kan tot tien keer hoër wees as in die algemene bevolking.