Vrae oor die Havana-distrikshospitaal

Die kwessie van distrikshospitale is terug in die nuus. Daar is steeds geen ontwikkeling by die erf in Havana waar die sooisputseremonie vir die begin van konstruksie reeds in Mei gehou is nie. Bieërs is ook ‘n week terug gevra vir kwotasies vir elektriese werk, waterdienste en ‘n toegangspad met aansoeke wat sluit op 15 November. Die grond, ter waarde van amper 19 miljoen Namibiese dollar is ook nog nie oorgedra nie. NEFF-lid Michael Amushelelo was by die braak erf en het met Kosmos 94.1 Nuus gepraat.

Die regering se aankondiging van die Havana-distrikshospitaal kom na ander distrikshospitale reeds tien jaar wag om gebou te word. Kosmos 94.1 Nuus het berig oor die Otjiwarongo-distrikshospitaal wat reeds sewe jaar gelede gebou moes gewees het en in 2014, het oudpresident Hifikepunye Pohamba die Nkurenkuru-distrikshospitaal van stapel gestuur. Nes op Otjiwarongo, is al wat te siene is die duur omheining van die perseel, wat reeds afgebreek word. Ondangwa sou ook ‘n hospitaal gekry het… in 2016.