Oorlogsploftoestelle in Noorde skadeloos gestel

Onontplofte toestelle wat ná die oorlog vir onafhanklikheid agtergelaat is, is by die Oshuuli-dorpie in die Ohangwena-streek vernietig. Die toestelle is deur die plofstofeenhede van die Namibiese polisie en die weermag ontdek terwyl ‘n opname in die gebied waar die nuwe Omulondo-Oshuuli-grondpad gebou sal word, uitgevoer is. Nathanael Povanhu, adjudant-offisier van NamPol, het die publiek daaraan herinner dat die Ohangwena-streek ‘n oorlogsone was, en daarom kan daar nog oorblyfsels van die oorlog in sommige gebiede wees. Beserings word steeds aangemeld, veral in die Noorde, met kinders wat op die toestelle afkom.