Uitvoerverbod op witrenosters nêrens in staatskoerant gevind nie

Kosmos 94.1 Nuus kon geen proklamasie in die staatskoerant vind oor die verbod op die uitvoer van witrenosters na gebiede buite hulle natuurlike habitat nie. Die Republikein berig vanoggend dat omgewingsminister Pohamba Shifeta bevestig het dit is reeds gepubliseer. ‘n Vinnige ondersoek toon dat geen proklamasie na die uitvoer van 40 renosters na Texas op 7 Oktober gemaak is nie, behalwe as dit voor daardie datum geproklameer is, wat die uitvoer onwettig sou maak. Die ministerie het self gesê die uitvoer van die diere was wettig. Luidens die dagblad, sê Shifeta dat geen renoster buite sy natuurlike habitat uitgevoer mag word nie en indien elders, moet hy onthoring wees, ‘n mikroskyfie hê en op ‘n register geplaas word.