Verkiesingskommissie waarsku teen geweld, intimidasie
Die Verkiesingskommissie van Namibië het geweld en intimidasie onder politieke partye in aanloop tot die verkiesing veroordeel. Die kommissie doen ‘n beroep op alle politieke partye om konstruktief met mekaar te skakel en verskille te respekteer, terwyl hulle gemeenskaplike grond soek vir almal se kollektiewe beswil. Dit kom ná ’n onderonsie onlangs tussen lede van Swapo en die Landless People’s Movement in Mariental. Woordvoerder De Wet Siluka sê sulke voorvalle is ‘n ernstige skending van die demokratiese beginsels wat die verkiesingsprosesse onderlê. Dit is ook teen die gedragskode vir politieke partye en politieke organisasies, soos bepaal in die Kieswet. Klousule 5 van die gedragskode verbied polities-gemotiveerde geweld of intimidasie in enige vorm.