Coenie Botha se N$216 miljoen boete tersyde gestel
Suid-Afrika se Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor het die boete van meer as 216 miljoen Namibiese dollar en die 10-jaar-uitsluiting wat dit vroeër vanjaar aan die kripto-handelaar Coenie Botha opgelê het, tersyde gestel. Dit was in terme van ‘n ooreenkoms tussen Botha en die Finansiële Dienste Tribunaal, wat op 7 Oktober as ‘n toestemmingsbevel gepubliseer is. Die boete het gevolg op ‘n ondersoek deur die owerheid na Botha as direkteur van Coin Based Innovation Global, of CBI. Die owerheid het in ‘n verklaring op 28 Maart gesê Botha het deur die CBI-entiteite beleggings van die publiek aangevra deur onrealistiese opbrengste van 1 persent tot 4 persent per week te belowe. Daar was geen wettige finansiële produk of beleggingsaktiwiteit wat die beweerde opbrengste gegenereer het nie. Geen verdere besonderhede van die ooreenkoms is bekendgemaak nie.