VN se lede word deur Israel geteiken
Twee lede van die VN-vredesmag is beseer nadat ʼn Israelse tenk op ʼn wagtoring by ʼn VN-basis in die suide van Libanon gevuur het. Volgens die Tussentydse VN-vredesmag in Libanon is die wagtoring by sy hoofkwartier in Naqoura direk getref. Israelse magte het VN-posisies die afgelope 24 uur glo herhaaldelik getref, insluitend deur doelbewus op sekerheidskameras te vuur. Libanese owerhede het vroeër berig vyf gesondheidswerkers is dood in Israelse lugaanvalle in die suide van die land. Minstens 155 gesondheidswerkers is sedert verlede maand dood.