Toetse wys TopScore kitspap is veilig

Namib Mills se TopScore kitspap is veilig om te eet, het breedvoerige toetse bevestig. Die produk is na ‘n onafhanklike, Sanas-geakkrediteerde laboratorium in Suid-Afrika gestuur vir toetse, nadat die kitspap op 29 September vir veiligheid van winkels onttrek is. Dit was na die dood van drie kinders in die Oos-Kaap wat glo die pap geëet het. Verskillende vervaardigingsgroepe en verskillende geure van die pap is getoets. Daar is getoets vir meer as 200 insekdoders, spore van skadelike swaar metale en siekteveroorsakende bakterieë soos salmonella en e. coli, maar al die toetse het skoon teruggekom. Namib Mills sê die toetsresultate bevestig dat sy produkgroepe oor alle geure vry is van skadelike kontaminante en aan die hoogste standaarde van voedselveiligheid voldoen.