BP maak weer ommekeer oor omgewingstrategie

Omgewingsaktiviste sal waarskynlik opruk maar die olie-reus BP het ‘n teiken laat vaar om olie- en gasproduksie teen 2030 te verminder. Die uitvoerende hoof Murray Auchincloss, het die maatskappy se energie-oorgangstrategie afgeskaal. Toe dit in 2020 bekend gestel is, was BP se strategie die sektor se mees ambisieuse met ‘n belofte om uitset met 40 persent te verminder terwyl hernubare energie teen 2030 vinnig sou groei. BP het die teiken in Februarie verlede jaar afgeskaal tot ‘n vermindering van 25 persent. Nuwe beleggings word in die Midde-Ooste en die Golf van Mexiko geteiken om sy olie- en gasproduksie ‘n hupstoot te gee.