Bendes baklei vroegoggend in Karasburg se strate, met pangas

Die Namibiese polisie het bendegeweld op Karasburg aangemeld. Volgens die misdaadverslag is chaos vroeg Saterdagoggend ontketen in Westerkim op die dorp. Twee bendes, Macota en die sogenaamde Donkerhoek Seuns het mekaar rondgejaag met pangas en stokke met sommige wat huise met klippe bestook het. Twaalf verdagtes is gearresteer met sommige wat beserings opgedoen het. Almal is Namibiese mans tussen die ouderdomme van 15 en 29. Vyf is minderjarig. Die groep sal vandag in die hof op die dorp verskyn.