Buccaneers palm derde MTN8-titel in

Orlando Pirates is vir ‘n geskiedkundige derde agtereenvolgende jaar as die MTN8-kampioene gekroon nadat hulle teruggeveg het in die Moses Mabhida-stadion in Durban en Stellenbosch 3-1 geklop het. Bradley Mojela se doel het Stellies laat juig, maar Jose Riveiro se span het net voor rustyd sake gelykop gemaak toe Monnapule Saleng ingeskop het. Dit het gelyk of bykomende tyd nodig sou wees maar Tshegofatso Mabasa was in die 91ste minuut suksesvol en Relebohile Mofokeng, vyf minute later ook. Die Spaanse afrigter Riveiro spog nou met ‘n indrukwekkende vyf bekers by die Buccaneers – drie MTN8-titels en twee Nedbankbekers.