Opul sê hy’t genoeg olie as Israel Iran se fasiliteite uitskakel

Opul sê hy het genoeg ekstra oliekapasiteit om te vergoed vir ‘n volle verlies aan Iranse voorraad as Israel daardie land se fasiliteite uitskakel. Die groep sal egter sukkel as Iran wraak neem deur installasies van sy buurlande in die Arabiese Golf te tref. Dit volg op Iran se missielaanvan op Israel, en Israel wat gesê het Iran sal vir daardie fout betaal. Israel se opsies sluit in om Iranse olieproduksiefasiliteite te teiken, het die Amerikaanse nuuswebwerf Axios berig, met verwysing na Israeliese amptenare. Iran is ‘n Opul-lid wat 3 persent van die globale olieproduksie lewer. Opul+, wat Opul en bondgenote soos Rusland en Kazakstan insluit, het die afgelope paar jaar produksie verminder om pryse te ondersteun te midde van swak wêreldwye vraag. Die groep sit dus op miljoene vate spaarkapasiteit.