NIPDB presteer met Know2Grow Hoë Potensiaal Poel-program

Die Namibië Beleggingsbevordering- en Ontwikkeling-raad, NIPDB, het tweede plek behaal in die gesogte World Trade Promotion Organisation 2024-toekennings vir sy Know2Grow Hoë Potensiaal Poel-program. Dit was in die kategorie “Beste inisiatief om te verseker dat handel inklusief en volhoubaar is”. Die program bemagtig uitvoergereed medium- en klein besighede deur hulle te voorsien van uitvoergefokusde kapasiteitsbou, marktoegangsplatforms en globale skaalgeleenthede. Die wêreldkompetisie vind sedert 2004 elke twee jaar plaas en word beoordeel deur ‘n jurie wat saamgestel is uit vorige wenners, onder voorsitterskap van die Internasionale Handelskommissie se uitvoerende direkteur.