NIPDB se Know2Grow-program op kortlys van gesogte toekennings

Die Namibië Beleggingsbevordering- en Ontwikkeling-raad, NIPDB, se Know2Grow Hoë Potensiaal Poel-program het die kortlys gehaal van die gesogte World Trade Promotion Organisation 2024-toekennings. NIPDB is op die kortlys in die kategorie “Beste inisiatief om te verseker dat handel inklusief en volhoubaar is”. Die toekennings vier handelsbevorderingsorganisasies wat uitblink in die ondersteuning van klein besighede om wêreldwyd mee te ding deur innoverende handelsontwikkelingspraktyke. Die Know2Grow-program bemagtig uitvoergereed medium- en klein besighede deur hulle te voorsien van uitvoergefokusde kapasiteitsbou, marktoegangsplatforms en globale skaalgeleenthede. Hierdeur kry besighede die gereedskap en hulpbronne wat nodig is om in buitelandse markte te floreer en sodoende by te dra tot die breër Namibiese ekonomie.