Nog ‘n eersteronde-nederlaag vir Tsitsipas

Tennis: Stefanos Tsitsipas se treurmares duur voort. Hy is in die eerste ronde van die Japannese Ope uitgeskakel. Die Griek, wat van derde tot twaalfde posisie op die wêreldranglys teruggesak het, het teen die Amerikaner Alex Michelson verloor. Tsitsipas het vroeër die eindstryd van twee Grand Slam-toernooie gehaal, maar is verlede maand ook in die eerste ronde van die Amerikaanse Ope uitgeskakel. Hy kon die afgelope twee seisoene net twee toernooie wen. Jack Draper van Brittanje, wat die halfeindronde in New York gehaal het, is deur na die tweede ronde in Kōtō.