Zuma sal volgende week persoonlik in die hof wees

Die Jacob Zuma-stigting in Suid-Afrika het die versekering gegee die voormalige president gaan aanstaande week self in die hof verskyn, ondanks sy toelating gister tot ‘n hospitaal. Die stigting se woordvoerder, Mzwanele Manyi, sê Zuma is geestelik sterk en is gereed om opsienbarende getuienis te lewer. Sy korrupsieverhoor wat met die wapenskandaal verband hou begin Dinsdag in die Pietermaritzburgse Hooggeregshof. Zuma is van die Estcourt-gevangenis waar hy tronkstraf van 15-maande vir minagting van die hof uitdien, na ‘n onbekende hospitaal geneem.