Kinders dalk 3 uur lank in ou yskas voor hul dood

Die NamPol-bevelvoerder in die Zambezi-streek, kommissaris Andreas Shilelo, sê voorlopige ondersoeke dui aan dat die vier kinders wat Maandag in ‘n ou, ongebruikte vrieskas in die Cowboy-nedersetting vasgekeer was, moontlik drie uur lank binne was voordat twee dood ontdek is. Die ander twee is na die Katima Mulilo-staatshospitaal gehaas, waar hulle met hul aankoms dood verklaar is. Volgens Shilelo is die kinders, wat nie verwant was nie, deur ‘n opsigter gevind wat na hulle begin soek het nadat hulle vir ‘n ruk lank nie gesien is nie. Shilelo het namens NamPol medelye met die families uitgespreek. Hy maan inwoners om waaksaam te wees oor items wat kinders se veiligheid in gevaar kan stel.