Agri-inflasie styg 6,75 persent in tweede kwartaal
Agri-inflasie het met 6,75 persent gestyg in die tweede kwartaal vanjaar, volgens die Namibië Landbou-unie se Tweede Kwartaal Agri-oorsig. In die tweede kwartaal verlede jaar het dit met 0,66 persent gestyg. Die verhoging is weens verskeie sleutelverhogings, soos inflasie in dieregesondheid wat met 18,7 persent op jaarbasis gestyg het. Brandstof het 17,3 persent inflasie op ‘n jaarbasis aangeteken, arbeid 12 persent en elektrisiteit 11 persent. Veral die styging in elektrisiteit dui op ‘n groeiende impak op landboubedrywighede, soos besproeiing. Die koste van voer het met 5,9 persent gedaal, na ‘n daling van 1,5 persent in die tweede kwartaal verlede jaar. Hierdie verlaging vergoed gedeeltelik vir stygende koste in elektrisiteit en brandstof.