Tweede reuse-diamant in Botswana gevind

Die Kanadese mynmaatskappy Lucara Diamond het nog ‘n reuse-diamant in Botswana gekry, sy tweede groot vonds in ‘n maand. Die jongste weeg 1 094 karaat en is by die Karowe-myn gevind. Alhoewel dit kleiner is as die 2 942 karaat diamant wat in Augustus in dieselfde myn ontdek is, is dit steeds ongeveer ‘n derde so groot as die grootste wat nog gevind is, die beroemde Cullinan-diamant van Suid-Afrika. Lucara se Karowe-projek is bekend vir reuse-diamante en die maatskappy sê dat die jongste ontdekking ‘n uitbreiding van die terrein se ondergrondse kapasiteit verder bevestig het, wat die lewensduur van die projek tot minstens 2040 verleng.