Herrie oor SPYL by Unam politiek speel, ten spyte van verbod
‘n Herrie het by die Universiteit van Namibië losgebars nadat die Swapo-jeugliga se Unam-tak verkiesingsverwante aktiwiteite van stapel gestuur het. Die universiteit het in April ‘n permanente verbod op politieke aktiwiteite op sy kampusse uitgereik. Studente beskuldig die universiteitsbestuur van politieke vooroordeel omdat sekuriteit glo ontplooi is om ‘n geleentheid van die Unam Politieke Wetenskap-vereniging stop te sit waar die PDM-parlementslid Inna Hengari een van die sprekers sou wees. SPYL se aktiwiteite is nie stopgesit nie. Unam se woordvoerder, Simon Namesho, het aan plaaslike media gesê die voorval is onder die aandag van die Direktoraat Studentesake gebring, en SPYL is ontbied vir navrae.