DA leier sê oorwinnings in tussenverkiesings wys mense wil bekwame bestuur hê

Die DA-leier, John Steenhuisen, sê die dawerende sukses in die tussenverkiesings wat gister gehou is, beklemtoon groei en die onwrikbare vertroue wat Suid-Afrikaners in die party se vermoë stel om eerlike, verantwoordbare bestuur te lewer. Die DA het 17 wyke regoor die land betwis en 16 van hulle gewen. In KwaZulu-Natal het die party alle tussenverkiesings gewen waaraan hy deelgeneem het, insluitend drie wyke in eThekwini. Hy het ook in Limpopo, die Vrystaat en Noordwes gewen. Steenhuisen sê hulle bly daartoe verbind om doeltreffende, diensgedrewe bestuur na elke uithoek van die land te bring.