Tweede Aussenkehr-brand eis 72 riethuise

Ongeveer 72 riethuise het by Aussenkehr in die verre Suide afgebrand. Volgens die Namibiese polisie het ‘n brand in een huis ontstaan wat vinnig versprei het as gevolg van ‘n sterk wind. Gemeenskapslede het besittings soos dokumente, kos, klere, komberse en matrasse verloor en is tans gestrand omdat hulle nie slaapplek het nie. Die brand is deur die gemeenskapslede, polisiebeamptes en watertenks van die druiwemaatskappye geblus. Geen ernstige beserings of sterftes is tydens die voorval aangeteken nie. Die oorsaak is nog onbekend. Dit volg nadat 30 huise by Komsberg ‘n week gelede deur ‘n brand verwoes is. Die riethuise vir werkers by die druiweplase in die gebied is jare lank in die nuus as gevolg van die haglike toestande en tekort aan elektrisiteit en sanitasie.