VN eis ondersoek na skietdood van VSA-aktivis by Nablus

Die Verenigde Nasies het ‘n volledige ondersoek aangevra nadat ‘n Amerikaans-Turkse vrou Vrydag in die besette Wesoewer doodgeskiet is. Die 26-jarige Aysenur Ezgi Eygi, het naby die dorp Beita naby Nablus deelgeneem aan ‘n betoging teen die uitbreiding van Joodse nedersettings. Sy is na bewering deur Israelse troepe geskiet. Volgens nuusagentskappe is sy hospitaal toe gejaag met ‘n skietwond aan die kop, en is later dood verklaar. Israelse magte het vroeër onttrek aan die stad Jenin en sy vlugtelingkamp in die besette Wesoewer, na ‘n groot operasie van nege dae.