Dooie vis bedek Griekse toeristehawe Volos

Honderde duisende dooie visse bedek ‘n Griekse toeristehawe, met owerhede wat in aller yl probeer opruim. Dit is nou ‘n wedloop teen tyd om die tonne dooie vis te versamel en te verwyder voordat die reuk nabygeleë restaurante en hotelle bereik. Die burgemeester van Volos, Achilleas Beos, waarsku die verrottende vis kan tot ‘n omgewingsramp lei vir ander spesies in die gebied. Die ramp is maar die jongste gevolg van uiterste weer weens klimaatsverandering. Griekeland het vanjaar verwoestende veldbrande beleef en wisselvallige reën het ook vloede veroorsaak.