Pluimvee-invoere uit SA weer oop, maar gesluit vir Brasilië

Die Direktoraat Veeartsenydienste onder die Ministerie van Landbou het die hervatting van die invoer- en deurgangsbeweging van lewende pluimvee en voëls uit Suid-Afrika aangekondig. Invoere word onder sekere voorwaardes toegelaat, onder andere dat die pluimvee op die maandelikse lys moet wees wat deur die direkteur van Dieregesondheid goedgekeur word vir uitvoer na Namibië. Die ouerkudde mag ook nie teen die hoogs patogeniese voëlgriep ingeënt wees nie. Kosmos 94.1 Nuus het met gesels met Jona Musheko, die ministerie se woordvoerder.

Die ministerie het ook die onmiddellike opskorting aangekondig van die invoer en deurgangsbeweging van lewende pluimvee, voëls, rou pluimveeprodukte, lewende volstruise en rou volstruisprodukte van die staat Rio Grande do Sul in Brasilië, weens ‘n uitbreek van Newcastle Siekte. Gaar pluimveevleisprodukte vir kommersiële doeleindes kan egter steeds met ‘n geldige veeartsenykundige invoerpermit ingevoer word.