Nuwe Shinawatra is nuwe Thailandse leier
Paetongtarn Shinawatra is tot Thailand se 31ste eerste minister verkies nadat sy genoeg stemme in die parlement gekry het. Die stemmery het plaasgevind enkele dae nadat die Konstitusionele Hof die gewese eerste minister, Srettha Thavisin, uit sy amp verwyder het. Shinawatra is die jongste dogter van ʼn vorige eerste minister, Thaksin Shinawatra, wat in 2006 in ‘n militêre staatsgreep uit die kussings gelig is. Die 37-jarige is die jongste eerste minister om Thailand te lei en die tweede vrou ná haar tannie, Yingluck Shinawatra.