Indiese dokters staak na kollega verkrag, vermoor is

Indiese dokters in staatshospitale regoor verskeie state in die land het vandag elektiewe dienste onbepaald gestaak om te protesteer teen die verkragting en moord op ‘n jong dokter. Die 31-jarige vrou se liggaam is met veelvuldige beserings gevind in ‘n staatsbeheerde hospitaal in Kolkata, waar sy ‘n inwonende dokter was. ’n Lykskouing het seksuele aanranding en moord bevestig. Die polisie het ‘n man aangehou wat by die betrokke hospitaal gewerk het. Seksuele geweld teen vroue is ‘n wydverspreide probleem in Indië – ‘n gemiddeld van byna 90 verkragtings per dag is in 2022 in die land van 1,4 miljard mense aangemeld.