Julien Alfred van St Lucia wen vroue 100m goud
Olimpiese Spele: Julien Alfred van St Lucia het met die gunsteling Sha’Carri Richardson afgereken en die vroue-100-meter-gouemedalje gister gewen. Alfred, wat nog nooit op die podium was op ‘n groot buitelugkampioenskap voor gister se eindstryd nie, het ‘n perfekte wedloop in 10,72-sekondes gewen. Die Amerikaner moes tevrede wees met silwer in 10,87, en haar landgenoot Melissa Jefferson het brons gekry in 10,92. Alfred se goud gee St Lucia sy eerste medalje ooit op ‘n Spele. Die eilandnasie het in 1996 eers aan die geleentheid begin deelneem.