Napha reageer op ‘eensydige artikel’ oor luiperdjag
Die Namibië Professionele Jagvereniging, Napha, sê hy bly standvastig in die ondersteuning van die omgewings-ministerie in sy pogings om wildbronne te bestuur en bewaar. Dit is in reaksie op ‘n onlangse artikel, wat volgens Napha-president Axel Cramer ‘n eensydige siening van luiperdjag-praktyke in Namibië bied. Cramer sê dit is van kardinale belang om te onderskei tussen wettige, etiese jagpraktyke en onwettige aktiwiteite. Jag met honde was byvoorbeeld in die verlede wettig, maar word nie meer toegelaat nie. Verder is die uitsit van aas, insluitend donkievleis, ‘n wettige en beheerde jagmetode, veral in gebiede waar ander prooi skaars is. Die vereniging het onlangs gedetailleerde aanbevelings by die omgewings-ministerie ingedien oor die bestuur van luiperds, insluitend probleemveroorsakende luiperds en trofeeluiperds. Napha sê elkeen van sy lede het ‘n gedragskode onderteken wat hulle daartoe verbind om die hoogste standaarde van etiese jagpraktyke te handhaaf.