Uitspraak vandag verwag in Amushelelo se bates-saak
Uitspraak in die saak waarin die aanklaer-generaal aansoek gedoen het vir bewaringsbevele teen Michael Amushelelo, word vandag deur regter Thomas Masuku verwag. Dit was op 26 Julie verwag maar is tot vandag uitgestel. Martha Imalwa se kantoor wil bevele vir agt luukse voertuie sowel as 13 verskillende bankrekenings bekom. Die voertuie sluit in Audi’s, Mercedes-Benz, BMW en Range Rover modelle. Die aansoek het te doen met die vermeende geldwassery waarvoor Amushelelo aangekla is, wat nog in die hoërhof afgehandel moet word. Amushelelo het die aansoek verdedig.