Pretoria se Charley tree af

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut sê die Afrika-olifantbul, Charley, gaan weens sy gevorderde ouderdom uittree. Charley is ‘n geliefde inwoner van die Nasionale Dieretuin in Pretoria wat die afgelope 23 jaar sy tuiste was. Die instituut sê tydens sy verblyf in die dieretuin het hy nie net duisende besoekers vermaak en ingelig nie, maar ook tot navorsingsinisiatiewe bygedra wat van onskatbare waarde vir die bewaring en bestuur van olifante is. Charley gaan na die Shambala-privaatwildtuin in Limpopo verskuif word.