Santorini-inwoners soek beperkings op toerisme

Baie van die byna 20 000 permanente inwoners van die Griekse eiland is sat vir toeriste. Hulle sê die eens idilliese eiland van oulike dorpies en ongerepte strande is deur massatoerisme verwoes. Terwyl betogings teen oormatige toerisme uitbreek in ander gewilde vakansiebestemmings, insluitend Venesië en Barcelona, verteenwoordig Santorini een van die skerpste voorbeelde van hoe besoekers ‘n plek kan beïnvloed. Die groeiende aantal buitelandse toeriste – sowat 3,4 miljoen het die eiland verlede jaar besoek, volgens burgemeester Nikos Zorzos – plaas druk op sy verouderde infrastruktuur en dryf eilandbewoners uit die huismark.