Twee kartel-base in Texas gearresteer

Amerika se Departement van Justisie het twee topleiers van die Sinaloa-kartel gearresteer. Dis een van die grootste misdaadgroepe in Mexiko. Die kartel se medestigter, Ismael Zambada Garcia ook bekend as El Mayo, en Joaquin Guzman Lopez, seun van die ander medestigter El Chapo, is in El Paso, Texas, vasgetrek. As leiers van die kartel se misdadige bedrywighede, staar albei talle aanklagte in Amerika in die gesig. Dit sluit in die vervaardiging van fentaniel en handelsnetwerke. Die departement het verlede jaar meer as 20 lede van die Sinaloa-kartel in hegtenis geneem.